Ek sien my asem, wit soos die sneeu wat onder my skoene kraak, soos dit in die lug opstyg. Die stilte tussen die donker takke is seker die enigste ding van winter waarvan ek nog hou. Dit maak dit makliker te sien waar vanaand se ete wegkruip.
'n Ritsel, sag maar duidelik in die vervrissende lug, laat my hand uit my sak glip. Ek gryp saggies my boog en 'n pyl uit sy houer. Die jag het begin.
Ek sien die sagte bruin boud van 'n bokkie tuseen die bome. Dit is nie dikwels dat bokkies hierdie tyd van die jaar in die woud rondloop nie. Vanaand gaan ons lekker eet, dink ek.
Soos ek nader sluip, sien ek dat die bokkie se kop gebuig is. 'n Swart hopie, donker teen die skitterende sneeu, lê voor die bokkie. Eers dink ek dit is nog 'n bokkie, een wat verkluim het. Maar hoe nader ek sluip, hoe swaarder word die gevoel in my maag. Toe ek die wit-blonde hare teen die donker bondel sien lê, trek ek my asem so hard in dat die bokkie binne sekondes tussen die bome verdwyn.
Ek hardloop nader en sak langs die bondeltjie neer. Dit is 'n klein seuntjie. My hande bewe en my ontbyt stoot in my keel op, suur en galbitter.
Sy ligte haartjies is vol ryp. Sy wimpers skitter teen sy vel, wat selfs nog witter is as die sneeu waarin hy lê. Sy lippe is blou van die koue. Ek hoef nie vir tekens van lewe te soek nie; ek weet ek sal niks kry nie. Ek wonder hoe lank hy al hier lê.
Die trane vries sodra hulle my wange raak. Ek ken hom nie, maar hy herinner my te veel aan my boetie wat ek twee jaar gelede amper net so in die woud gekry het.
Ek sit my arms om die seuntjie and druk hom teen my vas terwyl my skouers ruk. Ek verlang meer as ooit na die somer: die seisoen van groen en lewe teenoor hierdie enkele bladsy dooie wit.