Spesifieke reuke of smake, soos die soet geur van Ouma se beste sjokolade-koekies, kan spesifieke herinneringe in ons opbring. Dit kan ons aan 'n geliefde persoon, plek, tyd of gevoel herinner. Partykeer loop ek in die winter in 'n stad rond en die skerp koue, rook, parfum en die reuk van eetgoed meng in die lug en skielik wil ek Duitsland toe vlieg, want hierdie reuk herinner my aan Europa. Dieselfde ding gebeur met my in lughawens. Hulle ruik almal dieselfde: soos nuwe sitplekke en metaal en hordes mense. Dan wil ek op 'n vliegtuig klim en die wêreld gaan sien.
As ek daaraan dink, bring baie van hierdie klein dingetjies vir my 'n gevoel van vryheid. Die sagte gras onder my voete of die sand tussen my tone assosieer ek met plekke waar die besigheid van alledaagse lewe my nie kan raak nie. As 'n sterk wind oor my lyf waai en ons klere laat rondwapper of as water so sag soos sy oor my vel glip, voel dit asof al my probleme soos 'n vitamien-tablet in 'n glas water oplos.
As ek die sagte bladsye van 'n boek onder my vingers voel en die papier-reuk inasem, vergeet ek van alles. Dit klink miskien na 'n klein, onbelangrike ding, maar dit herinner my aan my manier om van alledaagse struikelblokke te vergeet en 'n wêreld te ervaar wat my op ander goed laat fokus.
Die een ding wat al hierdie klein dingetjies in gemeen het, is die feit dat dit die gevoelens wat hulle in ons wakker maak, nie letterlik daardie ding nie, wat ons gelukkig laat voel. Die herinneringe en assosiasies is gewoonlik wat daardie gevoel van blydskap in ons laat opborrel. Nie almal s'n is dieselfde nie. Klou aan hierdie dingetjies vas, want hulle kan jou bietjie vir bietjie deur die donker tye trek.