Talya Beyers

Flitsfiksie: As Skoene Kon Praat

Aug 14, 2014 Talya
Ek was nog altyd trots op my blink, lipstiffierooi leer en sagte veters. Dit is geen wonder dat ek Sara se gunstelingpaar skoene is nie. Elke dag, sodra sy by die huis kom, trek sy haar skoolskoene uit en trek my aan.
Flitsfiksie: As Skoene Kon Praat

Vandag is geen uitsondering nie. Wel, dit is wat ek eers dink. In plaas van om vir 'n wandeling te gaan, stap sy sy reguit kamer toe. Ek hou nie van die sagte mat onder my sole nie. Ek is gemaak vir modder en rotse.

Sara maak haar kas oop en haal 'n rugsak uit. Dit is ook rooi, maar nie so blink soos ek nie. Dit lyk oud, maar Sara steur haar nie daaraan nie. Sy begin laaie ooppluk en klere in die rugsak gooi. Ek wens vir die hoeveelste keer dat ek met haar kon praat. Wat doen jy, Sara?

Sy knoop die rugsak met bewende hande toe. Sy tel dit op en 'n paar items wat nie klere is nie, stamp teen mekaar. Dit maak 'n geluid en Sara vries. Haar asemhaling is vlak en ek kan haar hart tot in die punte van my veters voel klop. Nou word ek bang.

Die huis is stil. Die stilte is amper harder as die bakleiery wat gewoonlik elke stowwerige hoekie volmaak. Sara sluip geluidloos by die gang af en ek is trots op my sagte rubbersole. Daar is 'n groen glasbottel wat op sy sy langs die kapstok lê. Bloedrooi vloeistof maak 'n ronde vlekkie op die houtvloer. Sara skop die bottel en dit rol teen die muur vas.

Die skoene wat vir ons by die tuinhekkie wag, laat my wens ek kon sug. Hulle is swart met 'n silwer regmerk aan elke kant. Hulle blink glad nie en die veters en sole is dun. Ongelukkig ken ek hulle goed. Sara spandeer baie tyd saam met die persoon wat hulle dra.

Hulle sê niks vir mekaar nie. Ek is bly, want gewoonlik word ek gedwing om na ure se betekenlose geselsies te luister. My hart sink wanneer ek die motor sien. Hoekom kan hulle nie loop nie? Ek kan mos enige terrein hanteer en ek sal nooit Sara se voete seermaak nie.

Die hobbels op die rubbermat op die vloer van die motor kielie my sole. Dit is donker. Ek wonder waarheen ons gaan. Die gebrom maak my lomerig. Dalk is dit tyd vir 'n middagslapie. Sara kan vir my wakker maak as sy my weer nodig het, maar nou droom ek van berge en voetpadjies.